BannerFans.com

Monday, October 5, 2009

Ons Droom is Verwesenlik!

Verlede jaar op 1 April 2008 het ek die vorige inskrywing gedoen met die uitlsuitlike doel om ons hoewe te verkoop waar ons vir meer as 15 jaar gewoon het.




Kleinfontein se wildspark




Kleinfontein het aan ons die geleentheid gebied om weer ons voete te vind, en daardie stukkie grond het dit vir ons moontlik gemaak om die "onmoontlike" moontlik te maak.

In 1994 het ons huis in Witbank tot op die grond af gebrand en het ons werklik net die klere aan ons lywe gehad. Maar dis ver in die verskiet en vir my voel dit nou net soos 'n aaklige droom.






Ek en my seun besig om in die as rond te krap van wat ons slaapkamer was.

Dit het baie swaarkry en hartseer in ons lewens gebring, maar ons Anker en geloof in Jesus het ons deur alles gedra.

Op 'n dag het ons net gevoel, genoeg is genoeg. Ons kinders was al 3 al reeds in die buiteland en die moord en doodslag in SA het al nader en nader aan ons eie huis gekom. My man is met die dood by sy werk gedreig omdat hy nie bereid was om tot 'n laer standaard te daal nie.

Dit was nie 'n maklike en lukrake besluit nie.


Junie 2008 het ons die verkoop van die plot onttrek omdat ons werklik onseker oor alles gevoel het. Daar was soveel faktore wat ons in gedagte moes hou. Ons het nou net ons voete gevind en nou moet ons alles weer op gee en van vooraf begin.

Diep in my hart wou ek nog steeds land uit. Ek het gebid en die Here gevra dat as dit sy wil is dat ons New Seeland toe moet gaan, ek Hom die teken vra dat my man na my sal kom en se dat hy wil gaan. Ons het alles gelos en ons lewens geleef soos voorheen.

Familie lede het vir ons kwaad geword en ek is selfs van leuens beskuldig. Ek het, as mense gevra het of ons nog New Zealand toe gaan, "Ja" geantwoord. Dit het natuurlik my swaer die harnas in gejaag en hy het vir my gese dat ek moet ophou lieg vir mense. Ek het nie gelieg nie. Ek het nog steeds hierdie droom in my gehad.

Ek het 'n leuse. 'n Engelse leuse.

"What you think about, you will bring about, and let go and let God."

Hoeveel doem profete het ons nie in ons lewens gehad nie, want sien, hoe kon hierdie 2 mense, wat werklik gesukkel het om 'n bestaan in Suid Afrika te maak, dit in hulle koppe kry om land uit te gaan en 'n ander beter heenkome te gaan soek!

Dit is net nie moontlik nie!











Nie?


Ek was einde Oktober by 'n Woord in Aksie vroue kamp en toe my man my daar kom haal het, het ek verneem dat ons hele lewe gaan verander. Ek was moeg, maar daar was vreugde in my hart.

Ons het weer ons hoewe in die mark geplaas. Dit was moeilik, want die eiendomsmark was mors dood. Daar was baie belangstelling, maar niemand wou koop nie.

Ons het met die helfte van die aanvanklike bedrag af gekom. Van R780 000 na R450 000. Middel Februarie 2009 het ons koper gekom.

Ons het beplan om eers die 16e Julie 2009 te kom. Ons moes trek, en terwyl ons besig was om in die huurhuis in te trek, is ons mee gedeel dat ons end April weer moet trek, want die huis is verkoop. In teen deel wou die verhuurder gehad het dat ons sommer einde Maart moet uit wees.

Die deurslag van alles was dat hy die voornemende kopers van sy huis, en homself in gelaat het terwyl ons nie daar was nie. Ek was werklik vies. Alles het nog rond gestaan in die huis want ons was nog besig om te trek. Hy kon werklik net sy selfoon gevat het en ons laat weet het.
Ek het soos 'n gemolesteerde vrou gevoel. My man kon dit sien. Ek was sprakeloos. Hy het in die kombuis my hande gevat en ons het gebid en die Here vir leiding gevra. Die naweek was maar 'n stil en somber naweek. Ons het nie veel gepraat nie.

Sondag aand, na kerk, het hy die groot aankondiging gemaak.

"Ek bedank more" - Dit was die 16e Maart 2009

Dit het weer nuwe lewe in my verlamde ledemate gebring en ons het "gespring".














Laaste dag saam met familie in SA

Maandag oggend het ek Flight Center geskakel en hulle het my mee gedeel dat hulle 2 sitplekke op 'n vliegtuig beskikbaar het - 'n direkte vlug na Sydney Australia - op die 7de Mei 2009.

Ons het net hier en daar grond gevat. Die 7de Mei het aan gebreek en ons was op Quantas op pad na 'n nuwe lewe, 'n nuwe bestemming, 'n nuwe "home country".


Engels, alles Engels. In ons skole, in ons strate, in ons kerke?


"Wat het julle besiel?" Mense het net hulle koppe in ongeloof geskud, en ek dink hulle doen dit nog steeds. My beste vriendin het vir my gese dat ons Desember 2009 terug in SA sal wees.


Wel vriendin, ons het ons werkspermitte en ons doen nou aansoek vir permantnete verblyf wat na burgerskap gaan lei.

Dit is alles in 'n kort neute dop wat jou net 'n agtergrond gee van waar ons begin het.
Ek sal elke dag 'n inskrywing maak sodat jy kan lees hoe ons lewens hier verloop.




No comments: