BannerFans.com

Saturday, October 17, 2009

Ons Vlieg.

Die dag wat ons ons vlug na New Zealand gereel het, was (en dit weet ek vandag) die beste besluit van ons lewe.

Ons is ingelig om oor Dubai te vlieg, want dis "goedkoper", maar 28 - 31 ure tussen lughawens en ...

Bernadine Swart was die waardinnetjie by Flight Center en sy was baie behulpsaam. Sy het ons gevra wat die rede is waarom ons dan juis so wil vlieg. Dis maar net R1 000 duurder om met Quantas 'n direkte vlug te neem na Sydney lughawe, Australie.

Dit was 'n verligting, want ek het 'n 12 ure direkte vlug na London gehad toe ek 3 jaar gelede vir die meisiekinders gaan kuier het. Die vlug daarheen was nie so vermoeiend soos die terug vlug nie, en met dit nog in my geheue het 16 ure na Sydney na beslis 'n beter opsie geklink as 14 ure na Dubai, 8 - 18 ure se wag op die lughawe om 'n vlug na Sydney te haal, 2-6 ure wag op Sydney lughawe om oor te stap na Air New Zealand.

Die weer was baie swaar toe ons op styg. Ek het by die venster gesit, want ek het geweet dat ek nie waffers mag voel as ons op styg nie en dit help om dan uit te kyk.

Saam het ek en Lourens gekyk hoe die liggies van SA onder ons verdwyn. Die eentonige gedreun van die motore het ons vertel dat ons voete nie meer op Suid Afrikaanse bodem is nie.

Die vlug was nie gemaklik nie. Ek het gevoel hoe die grieperigheid my beet wil pak. Lourens het net heeltyd gese dat ek niks mag se nie, want "varkgriep" het sy greep op die wereld gehad en ek mag dalk onnodig terug gestuur word Suid Afrika toe.

Salig om weer grond onder ons voete te voel toe ons op Sydney oor klim, maar slegs een uur om by Air New Zealand te kom. 'n Ou tannie het ons hulp nodig gehad, wat later geblyk het dat sy presies geweet het wat om te doen, maar bietjie aandag gesoek het.

Dit was snikkend warm op Sydney lughawe. Ons is te laat vir ons vlug na New Zealand. My moed het in my skoene gesak. Nog 6 ure langer. 16 ure is nie 'n grap nie, en as jy nog boonop siek voel ...

Ons moes sit en wag om te hoor of die bagasie personeel bereid sou wees om ons bagasie op so 'n kort kennisgewing oor te laai.

Kleure en geure was om ons. Ons het die eerste kennismaking met die Maories gehad, Samoans, en wie weet watter kurltuur nog. Daar was 'n groep tradisionele Maories wat ook vir 'n vlug na New Zealand gewag het.

Jy kyk, maar jy kyk ook nie. Dis tatoes oral op die lywe, vreemde "volksdrag", 'n vreemde taal ... Toe hoor ons ons name en verligting spoel oor ons, want ek is nou al sop nat gesweet en my lyf pyn. Ek kan amper ne meer sluk nie.

Die waardin wil weet hoekom ek so sweet ... "hot flashes" ... en sy is tevrede, glimlag begrypend en daar trek ons al weer. Ek met my tassie op wielietjies, met my kussing en my jasse bo oor dit.

1 uur en 20 minute, Auckland se liggies verskyn onder ons. Dit reen.

Die mense wat ons op die lughawe moes kry, is nie daar nie. Dit begin kouer en kouer word, en dit reen. Die lughawe is besig om stiller en stiller te raak. Ons geleentheid, waarvoor ons vooruit moes betaal, is nie daar nie. Lourens is na buite en praat met iemand ... ek moet wag, want hy wil nie he ek moet koue vang nie. Ek voel effens beter na die koeldrank wat hy gekoop het - Australiese Gemmerbier wat soos 'n Castle dumpie lyk.

In 'n "Siyaya", wat hulle hier 'n shuttle noem, is ons op pad na die gastehuis. Daar is nog 2 ander mense saam met ons. 'n Britse dametjie en 'n Chinees. Ons punt is die verste en dus moet ons die langste in die bussie bly.

So, dis nou hoe ons nuwe tuiste in die aand lyk. Rye klein winkeltjies. Hier en daar is een nog oop, maar die groot meerderheid is toe. Hier en daar sien jy iemand alleen op straat. Is dit moontlik? Mensig, in Suid Afrika sou 'n man dit nie eens alleen gewaag het nie, wat nog te se 'n vrou!

Dis byna 12 uur, en dit reen, en dit is koud. Ons praat nie. Net so af en toe sal een van ons 'n opmerking maak, want ons kyk na die nuwe strate en verby flitsende liggies voor en langs ons verby.

Uiteindelik stop hy en hy help om ons bagasie uit laai. Dis afdraend na die Gastehuis. Ons hoor Afrikaans, en ons gasheer is baie bekommerd want hy het dan die geleentheid vroeg al uit gestuur om ons net na 9nm te kry. Hy is nog nie terug by die gastehuis nie ...

Ons word ons kamer gewys - "Trek asb net julle skoene hier by die deur uit", en nou is dit net was en in kruip. Dis koud, bitter koud en die lakens is koud en klam toe ons inkruip. Suzette van Staden, ons vriendin wat al byna 4 jaar hier is, het ons in gelig dat almal hulle skoene by die deur uit trek, want byna al die matte is lig. Vreemdheid no 1, maar dit maak sin. As ek dit maar in SA geweet het, was my werk baie minder, maar mense sou my maar snaaks aan gekyk het, dit weet ek.

Ons eerste nag in ons nuwe tuiste - ons nuwe lewe - nuwe uitdagings!

Ons moes die horlosie op Sydney met 9 ure aan skuif en met nog 'n uur in New Zealand. 5 Uur was Maraai nugter wakker, want dis die tyd wat ek gewoond was om op te staan, en het ek na 'n koppie koffie gesmag.

Ek het opgestaan en ek het my koffie geniet, en vir die eerste keer in 'n baie lang tyd, weer terug gekruip agter my man se rug, maar slaap was weg en ek het net na die reen gele en luister en God gedank dat ons uiteindelik hier is ...

No comments: