
As ek nie toegepas het wat ek hier op hierdie blog vir jou vertel het nie, sou ons beslis in kookwater gewees het.
Dit maak die verhuising soveel maklikker sonder enige onaangenaamhede. Dit is baie duidelik dat die agente jou nie al hierdie inligting gee nie, en hulle is nogal uit die veld geslaan as jy aandring om sekere van die goed gedoen te kry voordat jy in die nuwe huis in trek.
Toe ons dit vir die agent se, kon ons duidelik die verbasing en selfs onsekerheid op haar gesig sien.
"How long did you say are you in country?"
Mmm ... nie gedink Suid Afrikaners weet hoe om katvoet te loop nie ne!
Ons het jare op 'n plaas of 'n plot gewoon en ons sukkel bietjie om in die dorp aan te pas. As 'n mens eers die stilte gewoond is, is selfs 'n jaar nie eens genoeg om jou aan die stad se geremoer gewoond te maak nie. Dis nie lekker om kort kort op te pak en te trek nie, maar ons is opgewonde oor die feit dat ons uiteindelik op 'n hoewe kan gaan woon waar ruimte en vryheid en stilte is. Geen motors, dromme, partytjie geraas ... net die stilte en die vryheid van beweging.
Sjoe, dis erg om jou buurman te moet hoor hoes in sy huis, te hoor wat hy vir sy vrou te se het, en die honde se aanhoudende geblaf oor onbenullighede!
Ons het ook geleer dat area baie saak maak. Ons het baie oor die kulture al geleer en ons geniet dit nog steeds. Verruil dit nie om weer terug te gaan SA toe nie. Geen diefwering voor die vensters en deure, en jy kan maar iets buite vergeet. More oggend sal dit nog daar wees. Nou moet ek ook se dat dit is wat ons wel ook in SA beleef het.
Ek hoor iemand se: "Werklik? Waar?"
Ons het 15 jaar op Kleinfontein gewoon en dit het ons voorberei vir New Zealand. Self al die werk moes doen, stilte en vryheid, maar dis net op die plaas. Dis nie die res van Suid Afrika nie en vir hoe lank hulle nog in rus en vrede daar gaan woon weet ek nie. Ek praat van rus en vrede van moord, roof en diefstal. Of wag, laat ons liewer nie fyner sny nie.
Suid Afrika is en bly 'n mooi land en sal altyd my land bly, maar op die oomblik het ek geen begeerte om terug te gaan daarheen nie. Ek verlang na my vriende en familie, maar hier is nuwe Suid Afrikaanse vriende en ook van ons familie. Die groot verskil is dat ons hier mekaar se hande vat want ons het mekaar nodig in ondersteuning - geestelik en selfs ook finansieel. As hierdie 'broederskap' maar net so tussen ons mense in ons eie land kon gewees het. Vriende word vir jou soos familie en ons ry selfs honderde kilometers om bymekaar uit te kan kom. Kuier 'n hond uit 'n bos uit en die afskeid is swaar.
Wanneer ons so deur die land ry, dan wens ek my ma of my kinders was hier om dit saam met ons te kon beleef het. Ek geniet die weer. Ek geniet die natuur en die skoon lug, ek geniets selfs af en toe die

Waar het dinge vir ons begin verander in Suid Afrika? Die dag toe ek vir my kinders in London gaan kuier het. Dis die dag wat ek besef het dat ons sal moet wortels uit trek, opofferings moet maak om 'n nuwe heenkome te gaan soek. Dit was 'n lang en onseker besluit. Dis vreemd, maar ons het gedink soos ons voorouers destyds in die Kaap moes gedink het. Gaan ons buig onder die Engelse regering of gaan ons maar trek, die onsekere toekoms binne.
Met die Bybel in die een hand en geloof in die ander, het ons ook dieselfde stap geneem. Ons moes ook van dierbares afskeid neem. Besluit wat moet bly en wat moet saam kom. Dierbare vriende gaan groet en met 'n besef dat ons dalk nooit weer terug sal kan kom na ons geboorte land nie. Sommige van ons familie sal ons nooit weer sien nie, ook ons vriende ... Is dit die prys werd?
Ons kyk nie terug nie, en as ons ooit weer voor so 'n keuse testaan sou kom, sal ons presies dieselfde besluit geneem het.
Hoe hanteer ons die hele immigrasie storie?
Wel, ons hanteer dit asof ons na 'n ander dorp in Suid Afrika sou getrek het. Als is vreemd en jy moet baie dinge van vooraf leer. Genade, ek het nie eens geweet waar Noord of Suid is nie, en sukkel nou nog daarmee, maar dit is aan die een kant pretting en ons beskou dit as 'n uitdaging. Soms wil jy huil, soms lag jy, maar ons kyk nie terug nie. As ons voorouers dit kon gedoen het, en 'n sukses daarvan gemaak het, kan ons dit ook doen.
Wat probeer ek vir jou se?
Jy moet gaan sit en mooi dink oor die saak, want soos ons hier onder mekaar se oor immigrasie - "Dis nie vir sissies nie". Jy moet weet dat jy baie opdraendes gaan kry en jy moet deur druk. Hier is nie bediendes nie, jy moet als self doen. Dis niks snaaks om te hoor dat 'n wit vrou toilette in die aand gaan skrop nie. Dis nie 'n vernedering om til te gaanslaan as jy nie dadelik 'n werk kan kry nie, en pappas wat net gerieflik op die bank na werk gaan sit en TV kyk het, moes leer om self die voorskoot aan te sit en mamma help om als in orde te kry, want dit gaan als oor oorlewing en aanpassing.
183 verskillende kulture in een stad saam gegooi. En beland jy in 'n besuurs posisie, mag elke persoon wat onder jou werk, van 'n ander land afkomstig wees. Jy moet leer hoe hulle dink en wat hulle as humor beskou. Dit waaroor jy lag, mag vir hulle vernederend wees. Als is 'n aanpassing.
- Die huise is 'n aanpassing. Ons is gewoond in Suid Afrika dat huise en kantore van steen of klip gebou is, hier is die groot meerderheid houd. Dus moet jy leer om 'veiligheid' ten alle tye te dink om nie jou huis af te brand nie.
- Klere is anders hier. In Suid Afrika het ons dames geweet hoe om uit te hang. Ek praat nou nie van die vlenters wat jou laat dink dat daar 'n materiaal skaarste is nie. Ek praat van mooi boutique klere, kant, satyn, ens. Ja, die Balldresses vir die jonges is pragtig, maar hulle kan nogal verbeeldingloos wees vir kantoor drag. Meskien gee iemand my nog pak oor hierdie stelling. Maar kom ek verduidelik wat ek eindlik beteken. Wanneer 'n huis agent jou uit neem om na 'n plek te gaan kyk, is jy gewoonlik die enigste en is die dame of man baie netjies en professioneel geklee. Hier lyk die vrou soos 'n alledaagse huisvrou en die mans dra 'casual' klere. Hulle maak met 10 anders dieselfde tyd 'n afspraak en almal sit hul aansoeke in wat in die kantoor verwerk word. - Sien 'n agent dalk nou 'n geleentheid?
- Motor kultuur is natuurlik die beste. Skoon motors wat elke 6 maande 'n "warant of fitness" moet deur gaan. Baie goeie ding, want hier sien jy nie 'wrakke' wat hul eienaars en ander se lewens in gevaar stel nie. Die lekkerste is dat selfs die swaar voertuie net so vinnig as die motors beweeg en ons is gek na die rits houding. (Eers jy dan ek) en niemand staan ure en wag om ook op die motor weg te kan kom nie, en as jy moet af draai in 'n ander straat in, sal selfs aankomende verkeer vir jou geleentheid gee om die pad oor te steek, veral as dit 'n besige straat is. Nie soos in Suid Afrika waar jy later genoodsaak is om 'n gevaarlike kans te vat nie. En natuurlik moet ek die Siyaya's noem. Geen ongemanierde, uitdagende, woedekokende taxies wat jou siel versondig deur sommer in die middel van die pad te stop, of al 4 flikker ligte aan sit en jy moet maar raai watter kant toe hy wil draai nie. Kry jy die prentjie?
- Pakplek. O wee, dis 'n aanpassing en ek mis dit baie. Ons ken lekker baie kaste MET RAKKE, in Suid Afrika. Ongelukkig weet die Kiwies nie hoe om behoorlike kombuise of ingeboude kaste te maak nie. In die begin kon ek nie glo dat plastiek laai rakke verkoop en gebruik word nie, en dat die kamers skoon verslons lyk net omdat daar nie pak plek is nie. Jy moet self rakke koop, en dit maak die trekkery soveel groter, seker daarom dat die mark vir kamp kaste en plastiek rakke so florerend hier in New Zealand is. Ek het dit nou selfs oorweeg om van die plastiek gereedskap kaste, wat die manne gebruik in die motorhuis, aan te skaf. Dis lig om te trek, maar nie baie ooglik nie. 'n Mens moet in gedagte hou dat jy ouer word en dat die trekkery nie so maklik sal gaan wanneer jy oor 60 of 70 gaan nie. Die werk moet self gedoen word, of jy moet mense huur om jou te kom help. Gelukkig is hier jong mense wat bereid is om in te spring en te kom help met die trekkery. Sommiges wil betaling he en ander dink daaraan dat hulle ook eendag hulp nodig gaan kry van jongeres - lekker van ons Suid Afrikaanse kultuur waar jongmense die ouer mense met 'n glimlag help (al lag hulle soms in die mou)
- Kos - 'n groot verskil en 'n groot aanpassing. Ons was die skerp geure en kleure en smake van ons Suid Afrikaanse kos gewoond, en dit het 'n tydjie geneem om die kase se bleek smaak en kleur gewoond te kon raak. Sout is nie so sterk soos ons dit in SA gewoond was nie, maar hier is baie meer groente en vrugte beskikbaar as wat ons in Suid Afrika gekry het. En dit is bekostigbaar. Ons is baie dankbaar vir die SA winkeltjies waar ons nog steeds ons Mrs Balls se Blatjang kan gaan koop en die braaivleis speserye. Bietjie duurder as die plaaslike produkte, maar wat, ons gee nie om nie, want ons tonge soek nog steeds daardie skerp sensasie. Hier het ek baie ander kossoorte geleer ken en sommige van hulle sal ek nooit self koop nie. Mieliepap was so geredelik beskikbaar en nou moet ons soms maande wag voor ons weer 'n pakkie papmeel kan gaan koop. Hulle eet ook net sweet corn hier. Mensig, ek verlang soms na 'n lekker grootpit wit mielie en braaipap. Gelukkig is ek nie 'n groot pap eter nie, maar ek kry nogal van tyd tot tyd lus vir pap.
- Die weer. As oud Transvaler is die nat winter weer nogal 'n aanpassing. Vir manlief kan dit soms irriteer, maar ek geniet elke oomblik daarvan. Die somer is lekker, nie so warm soos in Suid Afrika nie, en dis niks snaaks om nog in November warm klere aan te trek nie. 'n Ou kan altyd warmer aan trek as dit koud is, maar net tot op 'n punt uit trek wanneer dit warm is ne.
- As jy van vogtige lug hou, is New Zealand die aangewese plek vir jou. Ons woon in Auckland, en die lug is baie vogtig. Dit laat my baie aan die Suidkus dink. Die humiditeit is nie so vel soos ons dit in SA by die see geken het nie. Ja, dit kan ook lekker bedompig warm word, maar dis net anders. Lekkerder. En wanneer laas het jy mense langs die strand gesien sit en vis en chips eet, hulle goed by hul kombers en handoeke los (sonder 'n oppasser) en die hele gesin baljaar in die water? Dis wat jy nog hier kan doen. Ek mis die geruis van die see en die breek van die branders teen die rotse. Die see is hier baie kalm. Daar is wel plekke waar die see lekker rof kan raak. Die mense van New Zealand geniet die buite lewe met 'n passie, anders as wat ons dit Suid Afrika beleef het.
- Day light savings is ook iets nuuts vir ons. In die winter word dit eers hier teen half sewe se kant lig, en dis niks snaaks om sekere dae glad nie die son te sien in die winter nie. Vandag is so 'n dag. Dit reen, is koud en skemer. Soos sommige mense se, dit lyk soos in 'n grot, maar ek geniet die weer. Pretoria was vir my te warm en te droog, en by die see was dit weer te bedompig warm. In die somer maande is dit soms tot na 9 in die aand nog daglig en kan dit jou baie gou uit gooi. Veral as jy gewoond was dat dit 8 uur in die aand al heeltemal donker was. Een voordeel is dat jy baie meer te doen kry in die somer as in die winter.
- Krag aansluiting, telefoon aansluitings, internet koppelings, als is goedkoper as wat ons dit in Suid Afrika beleef het, en die aansluitings is baie vinniger ook. Soms kry jy diens, soms nie. Soms gebeur dinge vinnig, en soms nie. Waarvan ek hou, en ek weet baie ander ook, is dat jy nie lank op 'hou' geplaas word wanneer jy 'n besigheid bel nie. In Suid Afrika het my swaer al 'n selfoon stukkend gegooi nadat hy meer as 'n uur "on hold" gesit is en oor en oor na dieselfde musiekstuk moes luister.
- "Noise Control" is seker een van die plus punte wat vir ons uit staan. Wanneer mense tot wie weet watter tyd partydjie hou, en soms kan dit die hele naweek, dag en nag, deur gebeur, kan jy Noise Control skakel en hulle reageer binne 'n uur, en skakel jou later om te hoor of dit nou stil is. Die polisie kom ook baie gou uit as jy hulle skakel as daar 'n probleem is, en niemand loop op die motorweg te voet nie. En gaan staan 'n motor, is die motorway patrol baie gou daar om bystand te verleen. Gaan staan jy sonder brandstof, kry jy 'n boete, want dis jou verantwoordelikheid om toe te sien dat jy genoeg brandstof in jou motor het en nie onnodig jouself en ander motoriste in gevaar stel nie. Is jou voertuig onpadwaardig, mag jy nie 'n tree verder ry nie. Hulle reel 'n insleep voertuig om dit (op jou koste) weg te sleep en hulle sal reelings tref om jou by die huis of by jou bestemming te kry as jy nie iemand het om dit te doen nie.