BannerFans.com

Wednesday, January 6, 2010

Waarom het ons Suid Afrika verlaat?


Die afgelope week is ons baie met DIE vraag gepeper vanuit Suid Afrika.


Politiek?
Regstellende Aksie?
Misdaad?

Ek het baie die afgelope paar dae oor Suid Afrika gelees en daar is geen heimwee in my oor my vaderland nie. Dit klink erg en ek word kwalik geneem hieroor, maar dit is 'n besluit wat ek en Lourens geneem het en ons is nie een dag spyt hieroor nie. Na 8 maande in New Zealand wonder ons waarom ons dit nie lankal gedoen het nie.

Politiek?

Ja, dit het 'n groot rol gespeel. Hier in New Zealand is dinge net anders. Hier is ook maar probleme, maar dit kan nie met Suid Afrika te politieke probleme vergelyk word nie. Twee maande gelede het ek 'n swart vrou uit Zimbabwe ontmoet en haar antwoord aan ons, op 'n vraag wat ons nie eens gevra het nie, het dit baie duidelik op gesom.

Ek het haar gevra waar sy vandaan kom, soos wat die meeste Suid Afrikaners maar doen. Ek kon sien dat sy van die Suidelike Afrikane afkomstig is. Sy het ons meegedeel dat sy van Zim af komstig is en so 8 maande in die Suide van Pretoria gewoon het, maar "we fled from South Afraca, because Zuma isn't different from Mogabe. As a matter of fact, he is worser."

Regstellende Aksie?

Ja, daar is geen vooruitsigte vir ons of ons kinders om opgang in Suid Afrika te maak nie. Ons kinders was almal in die buiteland en ons een dogter het 'n jaar gelede terug gegaan na Suid Afrika, nadat sy byna ses jaar in die UK was. Sy het baie goed vir haarself gedoen en toe sy vir werk aansoek doen in Suid Afrika moes sy hoor dat sy 'n bedreiging is, want haar kwalifikasies is hoer as die minister van Gesondheid en hulle is bang dat sy vir die pos sal mik.

Wat het op die ou end gebeur? Sy het gemaak asof sy geen kwalifikasies het nie en het uiteindelik 'n werk gekry. Ek het nie lus om verder oor regstellende aksie te praat nie, want ek sal vir dae aaneen hieroor kan praat, en ek glo daar is baie wat self ook 'n paar verhale kan vertel.

Misdaad?

Ja beslis. Dit was asof die kring al nouer en nouer om ons begin trek het. Drie dae voor ons vlug na New Zealand is twee mense, 60 en 62 jaar onderskeidelik - man en vrou - so vermink met hammers in die gesigte dat hul eie kinders hul nie kon uit ken nie.

Moet ek meer vertel?

Nee, ek het die stof van Suid Afrika van my voete geskud en ons het die uitdaging aanvaar om van vooraf in 'n vreemde land te begin. Dit is nie maklik nie, maar die swaar hier, kan nie eens in dieselfde sin genoem word as die swaar in Suid Afrika nie.

Ek weet nie eens of ek die guts het om net in Suid Afrika te gaan kuier nie. Ek sien nie meer kans vir die verkeer, verkeers woede, afpersery, ...

Ek kan nou nog nie oor die feit kom dat die poliesie my een dag voor gekeer het en my blatant van dronkenskap wou aankla nie. Dit was 4 weke voor ons sou vlieg. Voor in die paneel kissie was daar 2 s/steel bekertjies wat ons altyd gebruik het om koeldrank of water uit te drink wanneer ons ry. Op grond van die 2 bekertjies het die polisie vrou my daarvan beskuldig dat ek 'drink and drive' en dat dit my woord teen hare is. Haar kollega het saam gestem en ek moes hulle R100 betaal voor hulle my laat gaan.

Ek kon nie bekostig dat ek so 'n rekord op my naam kry nie en ek het New Zealand voor my gesien. Die woede en vernedering wel nou nog in my op wanneer ek daaraan dink.

Wat is die verskil in New Zealand?

Ons het eendag op die motor weg gestop om na die pad kaart te kyk, voor ons 'n GPS gekry het. Die verkeers polisie het kom navraag doen en ons gese dat dit onwettig is om op die motor way te stop. Ons het haar gese dat ons van Suid Afrika is, en sy was baie vriendelik en behulpsaam. Ons is nie eens met 'n waarskuwing laat gaan nie, maar is 'n goeie dag toe gewens en mooi verduidelik wat ons moet doen om nie ander motoriste in gevaar te stel nie.

As ons weer die geleentheid gegun word om 'n keuse te maak, sal ons beslis presies dieselfde keuse maak.

Almal wat New Zealand toe kom, en ek glo dat dit dieselfde in Australie is, stap maar 'n pad wat nie aldag maklik is nie. Immigrasie sit nie sommer net so in jou klere nie. Jy moet geduld he en bereid wees om die pad te stap.

Daar is die medies, wat terug gestuur kan word, eksamens vir elektrisiens wat geskryf moet word, maak nie saak of jy 'n ingeneur of net 'n ambagsman is nie. Al hierdie dinge kan nogal baie senutergend wees, maar dit bly nog steeds die moeite werd.

Die Suid Afrikaanse gemeenskap hier ondersteun mekaar geweldig. Ons het nie eens in Suid Afrika soveel ondersteuning ondervind nie. Die meeste mense weet dat dit nie aldag maklik is met immigrasie nie, en die wat al daar deur is staan jou by om jou te bemoedig. Dit help nie om 'n 'tantrum' te probeer gooi soos wat ons uit pure frustrasie in Suid Afrika gedoen het nie.

Wanneer jy hier kom, moet jou hele houding verander. In Suid Afrika het ons baie ongeduldig geraak, en dit is te verstane. Hier moet jy ook maar wag tot hulle besluit het om die dokumente af te handel, maar ons is geduldig want dit is ons hele toekoms wat op die spel is. In Suid Afrika is ons getart met 'n houding, 'jy sal wag', en dan is daar sommer in jou gesig gelag omdat jy kwaad word.

Vir ons is dit 'n lewe wat verby is en ons kyk nou net vorentoe. Pak die lewe aan en aanvaar die nuwe uitdagings wat aan ons gestel word. Daar is nie meer vrees en moedeloosheid nie. My hart gaan uit na my mense wat nog in Suid Afrika vas gevang is. My volk wat moedeloos en negatief geword het. Ek sal nooit ophou bid dat dinge in Suid Afrika moet draai nie, en al draai dit, sal ek nog steeds nie terug gaan nie.

New Zealand het ons nuwe tuiste geword. Ons het 'n besluit moes neem, wat nie vir almal aanvaarbaar en maklik is nie en nog minder kan baie dit verstaan. Ons verwag van niemand om dit te verstaan nie.

As jy die gevoel in jou hart gekry het om Suid Afrika te verlaat, moet jy weet dat daar 'n opdraende pad voor jou le. Dit is nie maklik nie, maar die gemoedsrus, die vrede, die veiligheid kan nie opweeg teen dit wat ons in Suid Afrika beleef het nie. Suid Afrika het ons hard gemaak. Elke Suid Afrikaner is 'n 'survivor', ongeag wie of wat jy is.

Waarom het ek die blog begin?

Sodat mense wat nog in Suid Afrika is, kan sien hoe ons in New Zealand leef, maar die groot beweeg rede was om mense oor ander aspekte van immigrasie in te lig. Ek is bereid om jou in kontak te bring met geregistreerde immigrasie agente, maar kan ongelukkig nie self vir jou die inligting hieroor gee nie.

Wat ek wel doen is om vir jou die ander kant uit te lig. Dinge wat jy moet weet. Dinge wat ons graag wou geweet het, maar niemand bereid was om vir ons te vertel nie omdat hulle bang was dat dit ons sou kon af skrik. Niks sou my en Lourens af geskrik het nie want ons het 'n doelgerigte besluit geneem en deur gevoer, en ons is dankbaar dat ons dit gedoen het.

Hou een ding in gedagte. Immigrasie is nie maklik nie. Soos die gesegde hier is : Immigrasie is nie vir sissies nie. Immigrasie toets jou op ander gebiede waarmee jy nog nie in jou lewe te doene gekry het nie.

Jy kan nie jou Bybel en Jesus in Suid Afrika los en dink jy gaan staande bly nie. Dis al die pad kniee werk tot jy PR gekry het. PR = Permanente Residensie.
In samewerking met Immigration New Zealand plaas ek van tyd tot tyd artikels oor aspekte soos verblyf, die wetlike aspekte rondom dit. Vandat ek met dit begin het, het selfs oud immigrante wat al 'n paar jaar hier woonagtig is, baie daaruit kon leer en ek is dankbaar dat ek op so 'n manier tot diens vir julle kan wees.

As jy enige vrae, het, plaas dit gerus onder komments. Daar mag dalk iemand anders wees wat dieselfde vraag het. Ek sal dit enige tyd vir jou so eerlik as moontlik beantwoord, en as ek nie die antwoord ken nie, sal ek vir jou die antwoord gaan soek tot ek dit vind.